Vasteland, wankelland
Afrika met die rye mielies soos windverwaaide soldate Afrika wie se mieliestamper 'n bedelaar se kneukels is Afrika met die lente 'n hongerblom in die sandveld langs die see Afrika wie se wilde kalossie 'n pers ster vir jou gee Afrika met die groen gifkool en wit tamaraka op sierlike steel Kokerboom-Afrika wat onder brokkelwolke droom Afrika wat jou soos 'n seekoeikalf deur die diepkuil op haar rug dra Afrika wat in die langpad wag – 'n waterput dorstig na die gelag van troppies kinders en boerbok Afrika wat geslagte lank onbeskaamd vir jou jok asof haar heel maan 'n gekrulde slang – soms swart soms geel Afrika wie se voetstappe gehoor word deur haar keel Stom Afrika met die blasende trapsuutjiebek en flapnek Afrika wat van kindsbeen af 'n modderlyf teen jou kom skuur soos 'n olifant teen 'n boom Afrika wat jou regterheup met boegoeroom wou salf Afrika wat jou gemartel het en laat leef Oopwond-Afrika wat die rooi dagbreek agter die berg suutjies nader neurie
|
|
| Tekst Carina Stander |
|