Lima
Peru
probeer om te vergeet
waarsku die stad om lig te loop want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie gesig versluier agter vuillug garĂșa
probeer om te vergeet die koue kind ruik Mercado del Indios se alpakkatruie en musse van wol
laat die stad in vlamme opgaan want ek wil haar nie so sien nie
die kind staan met hartseer speelballe in 'n stad van waansin waar sy stiptelik om spitstyd al op die stippellyn wawiel die munte traanblink in haar hand
steeds is haar voete duiwe duiwe al op die stippellyne kwetterend bo-oor die praatsang van priesters swiepend oor verlamde moeders wat llamalammers brei singend teen niksseggende vaders met arendsneuse en koppe van klei
en haar voete praat luider as die stemme van priesters en haar voete vleg vinniger as die hande van moeders en haar voete dink verder as die koppe van vaders
fladderend in wawiele is haar voete tweelingduiwe in vlug asof die shajshas se bokhoewe ratel en iemand 'n vyfsnaar-charango tokkel teen haar vel
moet die geluid van remme nie onthou nie en die kras gefluit van die wind deur die straat
probeer vergeet probeer vergeet dat Lima 'n dogtertjie was
Tekst Carina Stander |
|
|
|